Saturday, 11 January 2014



Vir baie jare al is dit ons begeerte om die Victoria-valle te sien en ook om Swakopmund, waar ons amper 28 jaar gelede wittebrood gehou het, vir die kinders te wys. Die twee plekke is baie ver uitmekaar maar hoekom dan nie ‘n ekspedisie daarvan maak nie…

Ons het op Google Maps die roete min of meer ‘n uitgewerk maar geen vaste slaapplek bespreek nie.  Intussen het ons sleepwaentjie so paar modifikasies ondergaan, die tente is op- en afgeslaan en selfs getoets. Lysies van benodighede is gemaak. Leon en Frieda, ons bure, gee raad oor spiraal tentpenne vir die sand en gee vir Paul vir sy verjaarsdag ‘n lampie wat laai met ‘n sonpaneel.   Ons reël met die bank dat ons ons bankkaarte in die buiteland gaan gebruik en ruil rande vir US Dollars.  Coreen willig in om in ons huis te kom bly so ons hoef glad nie oor die honde te bekommer nie. Dis so opwindend ons kan skaars wag om te vertrek.  Die laaste goedjies soos reënjasse en slaaplakens word op die nippertjie aangeskaf en nou moet nog net die padkos gemaak word…

Die oggend van 16 Desember 2013 vertrek ons 3 Van Niekerks op ons tog – Paul, Theresa en Paultjie, in ons 4x2-motor met ons treiler.  By Hammanskraal al sien ons die wolke. Ons weet gelukkig nie dat die wolke ons gaan inhaal nie. Die weer is mos mooi want ons het altyd wolke wat ons op warm vakansies beskerm.
Ons besluit om die grens by Groblersbrug, naby Lephalale oor te steek en dan ten minste vir Nata te mik – so 700km die eerste dag.  Net voor die grens grom ons mae al vir die padkos.  Ons trek by ‘n piekniekplek af en daar hol 3 vlakvarke by ons verby – dadelik verlang ons na Babsie, die worshond.  Magies vol, grens naby – hier kom ons!  By die SA-kant van die grens staan so lang tou mense en vreeslik baie swaarvoetuie.  Waar kom hulle vandaan?  Die pad was dan so stil.  Paul groet die een beampte heel vriendelik en hy wys ons by ‘n klein kantoortjie in, stempel ons paspoorte en daar gaan ons.  Ons kruis die Limpoporivier en is vol verwagting dat ons by die Botswana-kant van die grens ook gou sal deurgaan.  Die tou mense is nogal lank, die son warm en oral lê mense op die gras en slaap.  Moedig val ons in die ry – kry naderhand sonhoede en water.  Ons sien toe dat hierdie ry nie vorder nie.  Gou kom ons agter dat slegs twee personeelhede opgedaag het vir werk en slegs een kassier vir die voertuigpermitte.  Na vier en half ure, baie “nuwe vriende”, baie raad en baie geduld vat ons die pad.  Toe ons so moeg en gretig deur die grens in Botswana inry voel ons die humiditeit. Dis kompleet of jy louwarmwater inasem. Ons ry deur die Tuli Blok en hier is dit heel normaal om olifante en ander wilde diere langs die pad te sien. Die wolke word al dikker. 

Ons besef toe dat Nata nog te ver is want goeie raad aan ons was om nooit in die donker in Botswana te ry nie en om streng by die spoedbeperkings te hou.  Ons mik toe maar vir Francistown – met al die padwerke tref ‘n klip ons windskerm.  Waar slaap ons vanaand?

Net buite die stad sien ons ‘n bord “Woodlands Overnight”, 7 km van die pad af.  Ons besluit ons gaan probeer vir slaapplek – dis toe al so 6 uur die aand.  Hulle kan ons help met ‘n oornag chalet en wat ‘n aangename verrassing.  Paultjie gaan draf, ons spring in die swembad om af te koel en daar breek ‘n heerlike reenbui los wat heelnag aanhou.  Gelukkig het ons nog padkos gehad….

Die volgende oggend eet ons gou bietjie muesli en vat die pad.  Die mopaniebome groei welig langs die pad en daar is vreeslik baie beeste en bokke wat sommer teen die pad wei. Die pad is lank en Paultjie raak honger.  So in die ry sien ons mense in sulke groepe langs die pad bymekaarkom en kook en kuier.  Ons is nuuskierig en stop - dit is mopaniewurmtyd (groenes)  en hulle kook die wurms en droog dit uit vir kos.  Paultjie is ook nie links nie en eet so paar en hier bring hy vir sy pa ook wurms om te eet.  Die vrouens kyk vol verwagting wat ek gaan doen toe hy vir my uithou maar daai pootjies lyk vir my net te erg!  Middag-ete kom ons uiteindelik op Nata aan – ah ‘n bekende eetplek – Wimpy!  Ons moet vanaand al naby Kasane slaap want ons wil graag die volgende oggend Victoria-valle toe gaan.  Waar slaap ons vanaand?

En daar sien ek wat ek altyd gehoor het maar nie wou glo nie – padtekens wat waarsku teen olifante!  En dis regtig – die olifante loop hier langs die pad en eet.    



Net voor Kasane sien ons ‘n “lodge en camping” - Senyati.  Die kampeerplekke is vol bespreek maar hulle kan ons help met ‘n chalet vir een nag – ons wou graag twee nagte bly.  Vanaf ons chalet is Zimbabwe net 400m ver en die leeus en olifante loop vrylik rond.  Ons reël met Lou, die eienaar, om ons treiler die volgende oggend daar te los as ons in Zimbabwe ingaan en half 6 staan ons al voor die grenshek.  Ons verwonder ons aan al die voëls en diere en eet sommer ons muesli – en toe verlang ons sommer baie na Babsie.

Dis 100 km ver na die Victoria-valle, die gras en bome is groen, die klimaat is tropies, die bromvoëls langs die pad is volop en mens voel of alles half onwerklik is.  Victoria Falls is ‘n regte Arika-toeristedorp – aandenkings en baie toeriste.  

Die valle is alles en meer as wat mens kan dink.  Groter en mooier en meer water as wat ons onsself kon voorstel.  Mens loop seker vir ‘n kilometer op ‘n voetpaadjie met verskeie uitkykpunte.  Hier by die middel rond moet jy jou reënjas aantrek en jou kamera wegsit want die sproei van die valle is so erg dis letterlik soos reën.  Die plantegroei is tropies en die humiditeit is baie hoog.  En wat sien ons – presies daar waar die hoogste val oor die rotste tuimel sit mense – skaars 2 meter van die rand van die valle af – as hulle maar net kon sien wat ons sien…  Vandag weet ek hoekom die Victoria-valle een van die wonders van die wêreld is.  Daar is ook ‘n groot standbeeld van David Livingstone, Bybel in die hand – volgens oorlewering is hy die eerste Europieër wat die valle ontdek het en het dit na Koningin Victoria vernoem.  Die plaaslike naam vir die valle is Mosi-oa-Tunya wat beteken —"the smoke that thunders"

Paul: Victoria Valle! Kan jy dit glo. Ek is al oor die vyftig en nou sien ek dit vir die eerste keer. Die treffende is dat Livingstone die Evangelie hierheen gebring het en daarmee saam die beskawing. ʼn Held as jy my vra?



Dis 12 uur en die manne is honger.  Alles is duur want mens betaal in US Dollar en ons vat die pad OK Bazaars toe.  Pap en hoender – ek ly maar eerder honger maar die twee Pauls smul.  Terug oor die grens weer in Botswana in en hak die treiler.  

Ons besluit om deur die Chobe wildreservaat tot by die Ngoma-grenspos te ry.  Alles verloop glad en die stuk niemandsland tussen Botswana en Namibië is die mooiste mooi -  ‘n vloedvlakte met veewagters en diere.   



Toe ons Namibië binnery sê die jong grensbeampte ons moet in Katima Mulilo die voertuigpermit gaan uitneem - 70km later ry ons die dorp in.  By die Engen-garage moet die permit uitgeneem word maar die man is nie op kantoor nie – alles staan oop en ons wag en wag.  Later kom hy aangestap – skel oranje hemp en ‘n swart-en-wit-gestreepte pak klere.  Ons verkyk ons aan hom – terwyl hy hierdie belangrike taak afhandel om voertuigpermitte uit te reik wemel dit van vlieë op hom – ek wil die goed net doodslaan maar dit pla hom niks!  Waar slaap ons vanaand?
 
Iewers het ons gelees van die Island View Lodge en ons bel.  Hulle het vir ons kampplek en ons ry – 12 km uit die dorp en dan 20 km met ‘n grondpad tot by die oord.  Oppad soontoe staan die bome kniediep in die water – lyk of dit onlangs gereën het… Ons kry ‘n staanplek en uiteindelik gaan ons vir die eerste keer kamp.  Paul sê dadelik hy pak more oggend vroeg op want hierdie kampeerders lyk maar rof.  Ek en Paultjie is sat gery en wil net twee nagte op een plek slaap.  Ons slaan die tente op en pak uit.  



‘Waar is die verlengkoord?’  Nee hy is nie ingepak nie.  Toemaar ons sal die yskassie maar by die kragpunt op twee stompe sit en ons het darem die gasbottel.  Ons braai broodjies en raak sommer net salig.  Die ouens wat oorkant ons kamp kuier hartlik en toe dit saggies begin reën kruip hulle ook maar in.  

Dis ‘n heerlike oggend, die twee Pauls gaan kyk voëls en kom vertel hulle het vir ons ‘n visvangtrippie vir die middag bespreek.  Paultjie kom ook sommer met die visstok en een hoek aan want blykbaar is dit dié plek waar mens tiervis vang.  Ons besluit toe sommer om gou ‘n worsie en broodjies te braai.  Ook maar goed want daar was nie gou weer tyd vir eet nie. Twee uur is ons op die motorboot saam met Ernest, ons gids.  Ons vaar vanuit ‘n kanaal van die magtige Zambesi-rivier tot in die hoofstroom.  Ons sien waterploeërs – hulle skep vissies met die onderste deel van bekke in vlug.  Ernest stop by ‘n sandbank in die rivier en Paul en Paultjie stap rond, swem en geniet hulself in die water.  Die wolke skep geleentheid vir wennerfoto’s en ons sien hoe reën dit in Zambië.  Ons vaar so ent af met die rivier en Paultjie gooi in.  Ons is rustig en woeps daars ‘n pluk aan die lyn.  Hy trek ‘n pragtige tiervis van 3,2 kg uit.  Ons is in ekstase en neem foto’s.  Ons vaar nog bietjie rond op die rivier, verken al die diere en voëls aan die oorkant van die wal met die verkyker.  Ons vaar sommer baie naby ‘n groot krokodil verby.  Paultjie besluit om weer lyn nat te maak.  Doodluiters trek hy weer ‘n bielie van ‘n tiervis uit – die keer 5,6 kg!  Terug in die kamp staan almal nader om te hoor van sy visse – ons wys foto’s en hy is almal se held.  



Ons maak ‘n groot vuur om by te kuier en een van die ander kampeerders staan nader vir ‘n geselsie - Johann Nel van Swakopmund.  Hy vra uit oor ons reisplanne en vra dat ons hom bel sodra ons in Swakop aankom, gee sy adres en telefoonnommer want hy het vir ons blyplek.  Hy vertel dat slaapplek baie skaars en onbetaalbaar duur is gedurende Desember maar sy huis (woonstel) staan oop vir ons.  Hy beveel ook aan dat ons by Kaisosi slaap wanneer ons in Rundu aankom.  Terwyl ons telefoonnommers en adresse uitruil begin dit saggies reën.  Ons pak maar op, vang vinnig ‘n stort en nou begin dit harder reën.  Die enigste opsie is inkruip – ons in die groot tent en Paultjie in sy klein tentjie.  En dit reën en dit reën al hoe dringender en hoe later in die nag al hoe harder.  So teen drie uur die oggend hoor ons van die ander kampeerders rondskarrel – die reën het hulle oorval.  Hulle tent is sopnat, die bote dreig om te sink, hulle grou slote om die water weg te voer en Paultjie slaap rustig.  Teen sesuur raak ek en Paul bekommerd – hoe gaan ons deur die water en modder by die grootpad uitkom?  Ons maak Paultjie wakker – alles om hom is papnat maar hy lê hoog en droog op sy matras…  Hy het nooit agtergekom dat dit by sy tent inreën nie. So vind ons ook uit dat ‘n Blackberry kan swem.  Groot-oog kyk ons vir mekaar – wat gaan ons doen?  Lyk nie of dit ooit gaan ophou reën nie.  Ons hoor die bure (Johann Nel-hulle) oppak en besluit ons moet klaar oppak en voor hulle ry, sodat as ons dalk in die modder vasval met ons 4x2 kan hulle ons uitsleep met hul 4x4.  So gesê so gedaan – ons pak in gietende reën op, Paultjie trek van Paul se klere aan want syne is mos alles sopnat.  Daar is nie kans vir tandeborsel, gesigwas of harekam nie, nog minder eet.  Papnat in die motor en ons ry.  Paul ry teen 20km/h en die modder is taai en glad. Ons moet deur drie diep driwwe ry en my hart bons heelpad van opwinding en spanning.  En sowaar net om die eerste draai het ‘n 4x2 bakkie van die pad af gegly.  Ons voel om te help en Paul stop op ‘n growwe stukkie pad.  Hy en Paultjie stoot en help en gee raad en daar gaan die man…  Na meer as ‘n uur bereik ons die grootpad en slaak ‘n sug van verliging. 

Ons aldrie lyk oes en die naaste eetplek is op Katima Mulilo. Ons is nat en honger.  Al die eetplekke is nog toe en ons vat die pad Rundu toe - 500km verder.  Ons het op die padkaart gesien halfpad tussen die twee plekke is die Popavalle en besluit om daarlangs te gaan – daar sal sekerlik ‘n toilet en restaurant wees.  Ons word met ope arms verwelkom, moet elk N$10 betaal en gaan op ‘n verpligte toer van die nuwe luukse oord wat pas oopgemaak het.  Die restaurant is klinies skoon en ons lyk nie juis goed nie so ons gee dit maar ‘n “skip”. Druk deur tot op Rundu.  Bek en klouseer was jare ‘n probleem in die Caprivistreek en ons moet ‘n paar keer stop, uitklim, ons voete op ‘n matjie afvee terwyl hulle die wiele spuit en dan kon ons verder ry.  Waar slaap ons vanaand?

Kaisosi kan ons help met ‘n chalet vir die nag en hulle het ‘n restaurant.  Ek tap vir ons badwater in, die water lyk soos tee voordat jy nog ingeklim het en my hare is sommerso rooibruinkleur nadat ek dit gewas het. Paul en Paultjie probeer die tente droogkry en ek hang ons nat wasgoed die hele chalet vol maar dit help veel want die lug is vogtig en dit reën alweer.  Ons gaan eet uiteindelik – die kelnerin is verbaas dat ons so baie eet.  Die volgende oggend het die twee Pauls ‘n kajak geneem en al met die Okavango-rivier opgeroei.  Die son skyn silwer op die water en mens wil elke oomblik vasmaak in jou geheue.  Geen foto kan die atmosfeer vasvang nie…

Ons ontmoet vir Zdenek en Marika van Tseggië – hy is ‘n fotograaf/joernalis en hulle het al deur Asië, Suid-Amerika en Sentraal Afrika duimgegooi. (Jaco skip asb die paragraaf)  Vir Suider-Afrika moes hulle ‘n voertuig aanskaf want duimgooi is moeiliker in Namibië, Botswana en Suid-Afrika.  Ons kuier en gesels asof ons mekaar al jare ken.  Dit is wat Zdenek vir ons drie dae later in ‘n epos stuur:  We still hope our roads cross again so we can continue our conversation. Sometimes the life is crazy. You know somebody for ages and you never really get close. Sometimes you just meet somebody for a couple seconds and there is a connection immediately. That is what we felt with you.

Ons weet dat ons nou graag in die rigting van Etosha wil ry.  Waar slaap ons vanaand?  Ons vra rond by Kaisosi, gaan deur brosjures en besluit op Mokuti Lodge by die ingang van die wildtuin.  Paul bel maar die tariewe is bietjie buite bereik maar die dame is bereid om vir ons ‘n beter tarief te bied.  Ons weet ons kan nou rustig verder ry want ons het mos slaapplek.  Rundu is ook ‘n regte Afrika-dorpie – baie mense op straat, gate in die pad, vuil toilette (jy moet betaal om dit te gebruik) en oral loop maer honde rond. Ons trek geld in Rundu, gooi diesel in, koop bietjie versnapperinge en water vir die pad.  Paul wys ons die lugmagbasis waar hy ‘n kamp gedoen het.  Dis heeltemal anders as wat ek my voorgestel het – dis welig groen en ‘n hele ent buite die dorp.  Die pad raak interessant.  Oral is klein “villages” en die kinders speel langs die pad en die heel mooiste beeste wei langs die pad.  Omtrent elke 10km is pragtige klein skooltjies, in dieselfde styl gebou, en elke ander 10km is piekniekplekke.  Dit lyk so asof die mense gelukkig is om daar te kan bly.  Ons stop by een van die “villages” want die kinders verkoop sousklappers.  Die kinders het afrikaanse name maar praat engels.  Hulle wys vir my hul huisies en vertel dat hul ouers bedags in die lande werk terwyl hulle tuis bly, kosmaak en die kleintjies oppas.  Ek vra hulle of hulle weet waar ons vandaan kom en hulle dink ons kom van Rundu af want Rundu “is very far from here”.  Rundu is toe so 40km terug…  Ons kuier heerlik met hulle en gee vir hulle lekkers wat hulle gretig met mekaar deel. 

Ons ry tot op Grootfontein – wat ‘n pragtige dorpie – lyk of daar een of ander tyd Suid-Afrikaners betrokke was by die ontwikkeling van die dorp…  Al die winkels is toe so ons hou maar verby tot by die Hobas-meteoriet.  Die meteoriet is 2.7×2.7×0.9 m en bestaan hoofsaaklik uit yster en nikkel. 



Ons ry nou in die rigting van Tsumeb maar wil eers die Otjikotomeer aandoen.  Dis net na vyf en hulle is bereid om die meer gou vir ons te wys teen N$25 per persoon.  Nee wat - ons kan genoeg van die pad af sien en ry tot op Tsumeb - ook ‘n pragtige skoon Namibiese dorpie.   Die son sak eers teen hallf nege en ons wil graag voor sonder by Mokuti Lodge wees.  Die pad voel lank.  Net voor sononder stop ons by Mokuti Lodge.  Is ons op die regte plek?  Dis dan ‘n 5-ster lodge met hoofsaaklik Angolese- en Kubaanse-toeriste.  Ons word met ‘n gholf-karretjie na ons kamer aangery en o wee…  dis dan so luuks!  Ons gaan swem, stap bietjie rond en gaan klim soos koninklikes in spierwit beddens.  Ons wasgoed van Katimo is nog nat maar wie is nou bekommerd daaroor as jy so luuks kan slaap.  Sal more aand maar weer “down grade”.  Net voor ons aan die slaap raak kry Paul ‘n sms van Standardbank dat hy dringend die bank moet skakel ivm kredietkaartbedrog – luukse bekommerde nag… Ons nuttig die heerlikse buffet ontbyt, koop telefoontyd en bel die bank.  Hulle wou toe maar net seker maak dat dit wel ons is wat die kaart in die buiteland gebruik – ons het dan vooraf gereël -   al die bekommernis verniet…  Ons pak op – Etosha toe!  Waar slaap ons vanaand?




Paultjie: - Halali, Etosha

Ons het op die warmste tyd van die Sondag by Halali ruskamp aangekom, na ‘n rustige rit vanaf Namutoni waartydens ons jagluiperds in die verte gesien het asook kameelperde en gemsbokke en die baie spesiale gompou. Die son was warm en het skrefieskyk skerp vanaf die ligkleurige sandgrond gereflekteer. In die kamp was koelte skaars en ons het gewik en geweeg tussen twee staanplekke terwyl Pappa met die hulp van buurkamper-Jacques die son se lyn gepeil en die skadukolle geskat het. Ons het nie een oomblik geraai dat skaduwee ons laaste worry sou wees tydens ons verblyf by Halali nie…

Na ons gesweet het ‘dat die water by ons afstroom’, soos Pappa beskryf, het ons tente goed geanker en gespan daar gestaan. Die groot tent was op ‘n sementblad maar die kleintjie op die grond. Albei tente was nog sopnat van die baie reën by die Zambesirivier maar dit was op daai stadium so warm dat die tente binne minute kurkdroog was. 

Ek het daardie middag ‘n gawe Amerikaner in die kamp ontmoet wat saam my frisbie gegooi het. Ek hoop nogal om weer van hom te hoor want hy werk in Pretoria en hy het my kontakbesonderhede.

Vir ete (middag– en aandete) het Pappa vir ons slapchips by die kiosk gekoop nadat Mamma gesê het dat ons nie die vleis in die kamp se winkel sal braai nie, dit het al sleg geruik. Die chips was lekker maar ek wil eintlik uitkom by die ding wat ons meeste oor praat van die tyd by Halali:

In die laatmiddag het daar ‘n ligte windjie opgesteek. Nie lank nie toe val daar druppels ook vanaf daai mooi wolke van vroeër die dag wat toe al donker was en laag gehang het. Ek en Pappa het nog die klein tentjie probeer droog hou binne deur ‘n plastiek bo-oor te span maar daai windjie het sterker geword en die plastiek afgeskeur. Ek moes maar bedmaak in die groot tent. Die buurkampers was iewers buite die kamp besig om diere te kyk en ons het hulle handdoeke en kampstoele onder hulle seile gesit net voordat ons onsself in ons tent toegerits het. Die wind het begin pluk aan die tent, die reën het heeltyd harder en harder geval. Ek het nog op ‘n stadium onder die tentflap uitgeloer en buite het dit soos ‘n orkaantoneel op TV gelyk: wind wat die bome platdruk, oranje stowwerige lug en reën wat meer dwars as ondertoe val. Dis toe dat ek vir Pappa en Mamma ‘n noodplan gegee het: As die tent skeur, gryp klere en beddegoed, prop dit in swartsakke en hardloop kar toe.

Die tent het gelukkig nie geskeur nie. Tydens die piek van die storm was ons binne in die tent. Dit was donker buite. Pappa het onrustig na elke geluid wat die tent maak geluister, Mamma het grootoog vir ons gekyk en senuweeagtig gelag en ek het op my matras gelê. Dit het omtrent ‘n halfuur so gegaan. Toe hou die reën op en die wind bedaar.

Skielik het die laaste sonlig deurgedring. Daar het geluide vanaf die ander staanplekke gekom. Nie ver van ons nie het ons gehoor hoe iemand met ‘n graaf grou, en dis waar die snaakste deel vir my begin het: Naby ons het ‘n uitgebreide familie in tente gekamp. Daar was twee oupas en ‘n ouma, ‘n paar ooms, ‘n tannie en klompie kinders. En daar was ‘n jong man ook, en dit was hy en ‘n outjie van so sewentien wat om die beurt gegrou het. Hulle was al klaar besig om ‘n sloot te grou wat veronderstel was om hulle kamp te dreineer. Hulle staanplek was die laagste punt van die kamp en sodoende ‘n groot dam met die baie water wat in ‘n kort tydjie geval het. Die Ouma se tent was omring met kniediepte water. Ek het gesels met ‘n Oupa en jongman en Pappa se grafie gaan haal met die idee om te help grou aan ‘n sloot. Maar eers het ek na die res van die kamp gaan kyk. ‘n Entjie hoër op vanaf die familie se staanplek was daar nog ‘n staanplek wat in ‘n dam verander het, met tente omring deur water. Daar was ook mense besig om dreineringslote te grou. Heel logies het hulle dit by die laagste punt begin grou waar die water alreeds besig was om stadig uit te loop in die rigting van die groot familie se staanplek. Dus het hierdie boonste dam in die onderste dam uitgeloop. Ek het toe eers met die boonste dam se dreinering gehelp maar die grond was klipperig en moeilik en ons het die sloot maar redelik vlak gelos. En metdat ek terugstap na die groot familie se staanplek sien ek dat die Ouma agtergekom het dat ander kampers hulle dam in haar familie se dam dreineer, en sy wil so gou moontlik haar tent op droë grond kry. Om die probleem op te los het sy begin om ‘n wal in die boonste sloot te probeer bou, met ‘n paar bakstene en ‘n houtpaal, maar niks wat enige water sou kon stop nie. Ek kon maar net lag en vir die Ouma bemoedig dat haar tent uiteindelik weer op droë grond sou staan.

Daar het ‘n tweede storm gekom, die keer van die anderkant af. Dit was hewiger as die eerste maar die tent het bly staan. En daarna het ons gaan stort, tee gemaak en die bed geslaan. Die volgende dag is ons gou uit Halali uit want chalets was duur. En ongelukkig was daai stormagtige nag ook ons laaste in Etosha want die Okaukeujo kamp was vol bespreek. Maar oppad uit die Etosha park het ons bloukraanvoëls, nog gompoue en kameelperde, Zebra en baie klein tipes voëltjies gesien.  Waar slaap ons vanaand?


Ander kampeerders in die Halali-ruskamp, Etosha, vertel hulle is ook oppad Brandberg toe en beveel aan dat ons by die Brandberg White Lady Lodge kamp.  Op die foto is pragtige grasdaklapa’s, swembaddens en groen grasperke.  Ons besluit om soontoe te ry en daar te vra vir slaapplek.

Paul vertel:

Van dag een met ons beplanning vir hierdie reis wou ek graag die Brandberg sien na dit wat ek oor die plek opgelees het. In my gedagtes het ek verwag dat ons nie veel gaan sien nie maar ten minste sal kan sê dat ons daar was - so paar fotos neem en dan maar aanry. Tog was Brandberg min of meer die halte waar ons Kersfees sou uitspan. Vanaf Outjo ry ons na Khorixas om vandaar weg te draai - suid op ʼn grondpad. 



Oppad is die Vingerklip links so 16 km van die pad af. Wag besluit ons, ons het nou wel nie beplan om daar af te draai nie maar ons weet mos van die Vingerklip en ons sal dit graag wil sien. Draai maar om en gaan kyk!   



Ons is aangenaam verras met die klip se uitsig en die mooi akkomodasie beskikbaar. Ons ontmoet vir Hendrik en Lorraine van Johannesburg en kom agter dat ons baie belangstellings in gemeen het. Hulle is ook oppad Brandberg White Lady Lodge toe...

Terug op die “grootpad” na Uis lê die Brandberg soos ‘n “teenwoordigheid” aan ons linkerkant - is nie ver nie maar kom ook nie nader nie!  Dis ‘n lang stuk grondpad en ons stop in die kilometers van niks. Ons luister kliphard na Amy McDonald se liedjies en Paultjie dans die riel van lekkerkry. 



Ons draai regs in na die White Lady Lodge - die pad neem ons al dieper af na die mooiste groen oase in die woestyn, aan die voet van die Brandberg langs die Augabrivier. Die ontvangs is vriendelik en hulle het ‘n chalet en kampeerplek beskikbaar en sê ons kan gaan kyk wat ons verkies. In die kampterrein keer Herrie van Goodwood my voor en wys my die lekkerste kampeerplek onder ʼn groot kameeldoring met sy eie immergroen bos. In ‘n holte op die sagste riviersand slaan ons dadelik die tent op – ons vat die chalet se sleutel terug sonder om te gaan kyk! Ons yskassie kan vyftien grade onder die heersende temperatuur hou. Maar dit help niks as die heersende temperatuur 40 grade is nie. Intussen het dié se proppie ook uitgekom en alles is onder water, maar wat, hier gaan dit gou droog word in die hitte. Ons verwonder ons aan die berg se skoonheid maar sweet terwyl ons die kampplek regkry. Ablusie is nie ver nie - so 40 meter – net ‘n stort en toilet, geen dak of elektrisiteit nie. Ek is nogal verbaas dat Theresa so blymoedig is in hierdie omstandighede.



Uiteindelik het ons twee dae hier gebly en wonderlike ervarings gehad. Ons is in die bloedige hitte saam met ʼn gids, Patricia, die berg op. Bo-op in die kloof is die beroemde rotstekening van ‘n wit persoon wat meer waarskynlik die van ʼn jagter (toordokter) is, maw ‘ʼn man. Hul gewoonte was om hulself wit te smeer vir seremonies vandaar die “white lady”. Ons is verras oor die nuwe spesies voëls wat ons op ons lysie kan aftik.

Op ons laaste dag hoor ons die woestynolifante is oppad en ons wil graag in die rivierbed afstap om hulle te sien! Een van die kampeerders tel ons met sy Fortuner 4x4 op en vat ons tot by die olifante. Vandaar volg ek en Paultjie hulle te voet maar kom gou agter hulle is te vinnig. Ons raak agter want ons raak aan die gesels met Hendrik van Windhoek wat al die pad rivierbed-langs tot by die see gaan ry om vis te vang - 70 km verder. Paultjie is baie teleurgesteld omdat ons die olifante verloor het maar daar gaan ek en hy weer...  en die keer loop ons ons vas in twee koeie en ʼn kalfie. Paultjie sou in die nag ʼn draai loop en oppad amper ʼn groot alleenloper olifant teggemoet kom. Theresa  is baie op haar senuwees maar sy glo my darem dat hy niks sal doen nie. Die olifant het ʼn waterpyp uitgeruk en die bome langs ons geskud vir die kameeldoringpeule.  Hy is so naby ons tent dat ons sy maag hoor grom – seker van hongerte.




Die mooiste sonsondergange het ons hier ervaar – soos rooi vuur. Ons ry die volgende dag met verwondering en herrinnering in ons harte. Sal ons weer eendag kan terugkom?  Kersfees was stil maar opwindend!



Dis 26 Desember, die tiende dag van ons vakansie en dit voel of ons al twee maande op reis is.  Ons ry vanaf Uis tot by Hentiesbaai om Swakopmund toe te gaan.  Vanaf Hentiesbaai bel ons vir Johann Nel, net soos hy gesê het, en sê ons is oppad maar wil net gou eers 70km noord ry na Kaapkruis.  Die paaie hier is nie meer grond nie maar van sout.  Kaap Kruis is een van die grootste Kaapse rob-kolonies in die wêreld.  So ver jy kyk sien jy robbe – dit moes net na die broeiseisoen gewees het want daar is derduisend kleintjies.  Ons hongerpyne wyk ook so saam met die reuk van die robbe.



Oppad suid is oral soutmyne en langs die pad is klein tafeltjies met groot soutkristalle.  Jy kan stop en dan net ‘n geldjie in ‘n blikkie los as jy vir jou ‘n soutkristaal “koop”.  Ons was byne 28 jaar gelede in hierdie wêreld maar toe ons Hentiesbaai inry is ons verstom – dis dan nie meer die visvang-gehuggie nie.  Hier is pragtige huise gebou, groterige winkels en sommer baie mense.  Oral ry die vistermanne met hul visstokke vertikaal vasgemaak vooraan die bakkies.   

Ons kry ‘n klein stampvol restaurantjie oop en bestel “vis en chips” – ons smul behoorlik!  Swakop hier kom ons....
Ons kry redelik maklik Johann en Daleen se huis – en hy stel sonder enige voorbehoud sy woonstel aan ons beskikbaar.  Hul gasvryheid het ons oorweldig en ons spreek af dat ons vier nagte sal oorbly.  Swakop is mos ons wittebrooddorp, ons ken die dorpie goed en wil vir Paultjie al ons ou herinneringe gaan wys – die klein duitse restaurantjies, die jetty, Woermannhaus, die ligtoring en natuurlik die kaaskoek wat ons nie moet mis nie.  Wat ‘n ontnugtering – Swakop is dan amper ‘n stad!  Die plek het so uitgebrei, groot supermarkte, geplaveide strate en duisende vakansiegangers....  Ons voel half onkant betrap want mens kry nie eens parkeerplek in die “dorp” nie.  Die klein duitse restaurantjies is groot besige restaurante en mens moet ‘n tafel vooruit bespreek.  Maar die dag was lank – ons paas behoorlik van moegheid uit.

Die volgende oggend probeer ons in die dorp rondloop maar dis so besig dat ons besluit om uit te wyk Walvisbaai toe.  Ons wil ‘n hawevaart op een van die katamarans doen en gaan om plek te bespreek.  Op die hawe ontdek ons die heerlikse restautant – Anchor - en eet ons vingers af aan die heerlike vis.  Ons gaan stop langs die see en neem foto’s, ry uit al met die soutmynpad en verkyk ons aan die duisende pienk flamminke, kormorante, pelikane, duikers, snippe, eende, elsies, water kiewiete – die twee Pauls is in die sewende hemel oor al die oewervoëls – almal so bymekaar. Dis ‘n heerlike middag en aand.




Ons gaan saam met Laramon Tours op ‘n katamaranvaart – sien pelikane, robbe, dolfyne en ‘n walvis.  Van die robbe klim selfs op die boot en die klein kindertjies jil van plesier as hulle die rob vryf.  





Ons besluit om Duin 7,  die hoogste duin ter wêreld,  te gaan uitklim maar dis so warm ons kry nie ons voete in die sand nie.  Paultjie is baie braaf en klim die duin in fases uit en hardloop op die naat van die duin.  



Ons besoek ook die Goanikontis – maanlandskap – soveel van verlatenheid kan ‘n stadmens redelik depressief maak maar dis presies waarna ons soek en kuier rustig in die oase.  Ons ry sommer baie ver om die beroemde welwitchia-plante, waarvan een 1 500 jaar oud is, te sien en foto’s te neem.  Die skoon vars lug maak vir Paul baie vaak en hy kan skaars sy oë oophou en hy slaap lekker agter in die kar terwyl ek en Paultjie beurte maak om te bestuur.   


Dis ons laaste aand in Swakop en ons pak vir ons piekniek om langs die see te geniet terwyl ons die sonsondergang afneem. Ons besluit om die volgende oggend net na nege te ry want ons wil gou iets by die klipwinkel gaan koop en sommer ‘n duitse ontbyt eet in die dorp.  




Die atmosfeer in die restaurantjie is om te ervaar – duitsers met hulle koerante, koffie, baie praat en sommer net die samesyn.  Dit waarna ons verlang het, het ons die laaste oggend gekry.  Ons vat die pad Windhoek toe – deur klein dorpies soos Usakos, Karibib en Okahandja.  Waar slaap ons vanaand?  Oppad skakel ons ‘n gastehuis maar wat ‘n teleurselling toe ons daar aankom – pappegaaie, honde, katte en skilpaaie – jammer ons slaap nie in ‘n dieretuin nie...  Ons probeer die Vinyard Country Lodge en is aangenaam verras deur die goeie diens en pragtige kamer – alles in ‘n ou wynkelder. 

Windhoek is ‘n uitgebreide stad oor heuwels – lyk so half soos ‘n outydse stad met hier en daar buitengewone moderne geboue (lyk soos Dubai se geboue).  Die Christus Kirche waak oor die stad maar die soldaat op sy perd is juis toe net afgebreek en moet op ‘n ander plek staangemaak word.  (Dit was ook die hoofbespreking daardie oggend in die restaurantjie in Swakop.)  Ek neem ook toe sommer die  straatname af – Fidel Castro, Robert Mugabe, Sam Nojomo, Nelson Mandela, Kenneth Kaunda – klink of die res van Afrika (en Kuba) in Windhoek kom kuier het.  Om nie eens van al die musikante te praat nie, Beethoven, Bach, Mozart ens.  

Ons gaan besoek vir Roy en Gerda Wallace, ‘n pastoorspaar wat Paul al vir baie jare ken.  Hulle is al by die 70 maar soveel van respek en liefde tussen ‘n paartjie het ek al min in my lewe gesien.  Hulle bied vir ons slaapplek aan maar ons het reeds by die Vinyard Country Lodge ingeboek.  Poot-uit gaan slaap ons want more begin ons huiswaarts keer.

Ons besluit om Oujaarsaand 2013 by Kalahari Rest Camp, net voor Kang, halfpad deur Botswana te slaap. Wat meer kon ons vra, die mooiste sonsondergang, rustigheid, stilte, baie diere en voëls – ons voel geseënd!  Ons bid saam en dank die Here vir die jaar wat Hy ons gedra het en dat ons die jaar met so ‘n wonderlike vakansie, wat ons emosioneel geheel het, kan afsluit.




Die pad deur Botswana voel en lyk letterlik of ons in die hemel ry – die gras is grasgroen tot teen die teer, goudgeel blomme, vet beeste, bokke en perde - die pad is stil.  Ons is omtrent die enigste mense wie deur die grens gaan.  Dis nuwe jaar en die grensbeamptes aan die Suid-Afrika kant is vriendelik en ons is bly om ons “eie mense” te sien!  Ons is tuis!  Waar slaap ons vanaand? In ons eie beddens... 5 800 km later...



Die Emosionele Reis

Soos vir baie mense wat ons ken was 2013 ‘n besonderse moeilike jaar.  Ons gesin moes emosioneel baie dinge deurwerk en vandag weet ons dat die Here hierdie “onbeplande” vakansie vir ons gereël het om ons emosioneel te heel.
Ons Ouboet het die huis verlaat, eers vir die Kaap en toe vir Rusland, Paultjie was finale jaar ingenieurswese, ons moes drie kosbare familielede aan die dood afstaan en ons vriendskappe is getoets.

Ons het geweet waarheen ons wou gaan maar nie heeltemal besef wat op ons wag nie.  Die lang wag by die eerste grenspos was vir ons soos “om afstand te kry” van dit wat agter lê.  Die onsekerheid van waar om te slaap het ons nie een maal oorweldig nie want sonder om ernstig te bid vir slaapplek het die Here keer op keer voorsien. Ons is selfs geseën met gratis verblyf in Swakopmund. 

Die ongewoon baie reën by Katima Mulilo het ons drie gedwing om soos “een man” te dink en saam te werk.  En ons het ook geleer om vir mekaar te lag en mekaar net te geniet.  Die ongewone omstandighede het natuurlik ook gemaak dat ons nooit aan die huis, werk of studies gedink het nie.  Die groot “heelmaak” het in Etosha begin – in twee groot orkaan-agtige storms het ons tentjie bly staan.  By die Brandberg kon ons in die woestyn net “rus” – dit was baie warm maar die windjie het ons afgekoel.  Die kilometers van niks is later soveel van niks dat mens ook aan niks dink nie – hoe nodig is dit nie soms nie….  

Soms was die pad so lank en stil en dan luister ons kliphard na Hillsong, Louis Brittz, Third Day en Amy McDonald.  Dis juis haar een liedjie “This is the life” wat die tema van ons vakansie geword het.

And you’re singing the songs

Thinking this is the life

And you wake up in the morning……

Where you gonna go

Where you gonna go

Where you gonna sleep tonight

Wat sou ons anders gedoen het? Niks!  Ons kon seker meer gereeld geëet het maar dan het ons die etes dalk nie soveel waardeer nie.  Die tye wat ons luuks gewoon het was soos om in ‘n hawe vas te meer en dan weer op die oopsee uit te gaan – dit was nodig!  Ons 4x2 motor was meer as voldoende – ons het gery waar ons wou wees.  Wat ‘n wonderlike manier om 2014 aan te pak….
 




No comments:

Post a Comment