Vir baie jare al is dit ons begeerte om die
Victoria-valle te sien en ook om Swakopmund, waar ons amper 28 jaar gelede wittebrood
gehou het, vir die kinders te wys. Die twee plekke is baie ver uitmekaar maar
hoekom dan nie ‘n ekspedisie daarvan maak nie…
Ons het op Google Maps die roete min of meer ‘n uitgewerk
maar geen vaste slaapplek bespreek nie.
Intussen het ons sleepwaentjie so paar modifikasies ondergaan, die tente
is op- en afgeslaan en selfs getoets. Lysies van benodighede is gemaak. Leon en
Frieda, ons bure, gee raad oor spiraal tentpenne vir die sand en gee vir Paul
vir sy verjaarsdag ‘n lampie wat laai met ‘n sonpaneel. Ons reël met die bank dat ons ons bankkaarte
in die buiteland gaan gebruik en ruil rande vir US Dollars. Coreen willig in om in ons huis te kom bly so
ons hoef glad nie oor die honde te bekommer nie. Dis so opwindend ons kan
skaars wag om te vertrek. Die laaste
goedjies soos reënjasse en slaaplakens word op die nippertjie aangeskaf en nou
moet nog net die padkos gemaak word…
Die
oggend van 16 Desember 2013 vertrek ons 3 Van Niekerks op ons tog – Paul,
Theresa en Paultjie, in ons 4x2-motor met ons treiler. By Hammanskraal al sien ons die wolke. Ons weet
gelukkig nie dat die wolke ons gaan inhaal nie. Die weer is mos mooi want ons het altyd wolke wat ons op warm vakansies
beskerm.
Ons
besluit om die grens by Groblersbrug, naby Lephalale oor te steek en dan ten
minste vir Nata te mik – so 700km die eerste dag. Net voor die grens grom ons mae al vir die
padkos. Ons trek by ‘n piekniekplek af
en daar hol 3 vlakvarke by ons verby – dadelik verlang ons na Babsie, die
worshond. Magies vol, grens naby – hier
kom ons! By die SA-kant van die grens staan
so lang tou mense en vreeslik baie swaarvoetuie. Waar
kom hulle vandaan? Die pad was dan so
stil. Paul groet die een beampte
heel vriendelik en hy wys ons by ‘n klein kantoortjie in, stempel ons paspoorte
en daar gaan ons. Ons kruis die Limpoporivier
en is vol verwagting dat ons by die Botswana-kant van die grens ook gou sal
deurgaan. Die tou mense is nogal lank, die
son warm en oral lê mense op die gras en slaap.
Moedig val ons in die ry – kry naderhand sonhoede en water. Ons sien toe dat hierdie ry nie vorder
nie. Gou kom ons agter dat slegs twee
personeelhede opgedaag het vir werk en slegs een kassier vir die
voertuigpermitte. Na vier en half ure,
baie “nuwe vriende”, baie raad en baie geduld vat ons die pad. Toe ons so moeg en gretig deur die grens in
Botswana inry voel ons die humiditeit. Dis kompleet of jy louwarmwater inasem.
Ons ry deur die Tuli Blok en hier is dit heel normaal om olifante en ander
wilde diere langs die pad te sien. Die wolke word al dikker.
Ons besef toe dat Nata nog te ver is want goeie raad aan
ons was om nooit in die donker in Botswana te ry nie en om streng by die
spoedbeperkings te hou. Ons mik toe maar
vir Francistown – met al die padwerke tref ‘n klip ons windskerm. Waar
slaap ons vanaand?
Net buite die stad sien ons ‘n bord “Woodlands
Overnight”, 7 km van die pad af. Ons
besluit ons gaan probeer vir slaapplek – dis toe al so 6 uur die aand. Hulle kan ons help met ‘n oornag chalet en
wat ‘n aangename verrassing. Paultjie
gaan draf, ons spring in die swembad om af te koel en daar breek ‘n heerlike
reenbui los wat heelnag aanhou. Gelukkig
het ons nog padkos gehad….
Die volgende oggend eet ons gou bietjie muesli en vat die
pad. Die mopaniebome groei welig langs
die pad en daar is vreeslik baie beeste en bokke wat sommer teen die pad wei.
Die pad is lank en Paultjie raak honger.
So in die ry sien ons mense in sulke groepe langs die pad bymekaarkom en
kook en kuier. Ons is nuuskierig en stop
- dit is mopaniewurmtyd (groenes) en
hulle kook die wurms en droog dit uit vir kos.
Paultjie is ook nie links nie en eet so paar en hier bring hy vir sy pa
ook wurms om te eet. Die vrouens kyk vol
verwagting wat ek gaan doen toe hy vir my uithou maar daai pootjies lyk vir my
net te erg! Middag-ete kom ons
uiteindelik op Nata aan – ah ‘n bekende eetplek – Wimpy! Ons moet vanaand al naby Kasane slaap want
ons wil graag die volgende oggend Victoria-valle toe gaan. Waar
slaap ons vanaand?
En daar sien ek wat ek altyd gehoor het maar nie wou glo
nie – padtekens wat waarsku teen olifante!
En dis regtig – die olifante loop hier langs die pad en eet.
Net voor Kasane sien ons ‘n “lodge en camping”
- Senyati. Die kampeerplekke is vol
bespreek maar hulle kan ons help met ‘n chalet vir een nag – ons wou graag twee
nagte bly. Vanaf ons chalet is Zimbabwe
net 400m ver en die leeus en olifante loop vrylik rond. Ons reël met Lou, die eienaar, om ons treiler
die volgende oggend daar te los as ons in Zimbabwe ingaan en half 6 staan ons
al voor die grenshek. Ons verwonder ons
aan al die voëls en diere en eet sommer ons muesli – en toe verlang ons sommer
baie na Babsie.
Dis 100 km ver na die Victoria-valle, die gras en bome is
groen, die klimaat is tropies, die bromvoëls langs die pad is volop en mens
voel of alles half onwerklik is.
Victoria Falls is ‘n regte Arika-toeristedorp – aandenkings en baie
toeriste.
Die valle is alles en meer as wat mens kan dink. Groter en mooier en meer water as wat ons
onsself kon voorstel. Mens loop seker
vir ‘n kilometer op ‘n voetpaadjie met verskeie uitkykpunte. Hier by die middel rond moet jy jou reënjas
aantrek en jou kamera wegsit want die sproei van die valle is so erg dis
letterlik soos reën. Die plantegroei is
tropies en die humiditeit is baie hoog.
En wat sien ons – presies daar waar die hoogste val oor die rotste
tuimel sit mense – skaars 2 meter van die rand van die valle af – as hulle maar
net kon sien wat ons sien… Vandag weet
ek hoekom die Victoria-valle een van die wonders van die wêreld is. Daar is ook ‘n groot standbeeld van David Livingstone,
Bybel in die hand – volgens oorlewering is hy die eerste Europieër wat die
valle ontdek het en het dit na Koningin Victoria vernoem. Die plaaslike naam vir die valle is Mosi-oa-Tunya wat beteken —"the smoke that thunders"
Paul: Victoria Valle! Kan jy dit glo.
Ek is al oor die vyftig en nou sien ek dit vir die eerste keer. Die treffende
is dat Livingstone die Evangelie hierheen gebring het en daarmee saam die
beskawing. ʼn Held as jy my vra?
Dis 12 uur en die manne is honger. Alles is duur want mens betaal in US Dollar
en ons vat die pad OK Bazaars toe. Pap
en hoender – ek ly maar eerder honger maar die twee Pauls smul. Terug oor die grens weer in Botswana in en
hak die treiler.
Ons besluit om deur die Chobe wildreservaat tot by die
Ngoma-grenspos te ry. Alles verloop glad
en die stuk niemandsland tussen Botswana en Namibië is die mooiste mooi - ‘n vloedvlakte met veewagters en diere.
Toe ons Namibië binnery sê die jong grensbeampte
ons moet in Katima Mulilo die voertuigpermit gaan uitneem - 70km later ry ons
die dorp in. By die Engen-garage moet
die permit uitgeneem word maar die man is nie op kantoor nie – alles staan oop
en ons wag en wag. Later kom hy
aangestap – skel oranje hemp en ‘n swart-en-wit-gestreepte pak klere. Ons verkyk ons aan hom – terwyl hy hierdie
belangrike taak afhandel om voertuigpermitte uit te reik wemel dit van vlieë op
hom – ek wil die goed net doodslaan maar dit pla hom niks! Waar
slaap ons vanaand?
Iewers het ons gelees van die Island View Lodge en ons
bel. Hulle het vir ons kampplek en ons
ry – 12 km uit die dorp en dan 20 km met ‘n grondpad tot by die oord. Oppad soontoe staan die bome kniediep in die
water – lyk of dit onlangs gereën het… Ons kry ‘n staanplek en uiteindelik gaan
ons vir die eerste keer kamp. Paul sê
dadelik hy pak more oggend vroeg op want hierdie kampeerders lyk maar rof. Ek en Paultjie is sat gery en wil net twee
nagte op een plek slaap. Ons slaan die
tente op en pak uit.
‘Waar is die verlengkoord?’ Nee hy is nie ingepak nie. Toemaar
ons sal die yskassie maar by die kragpunt op twee stompe sit en ons het darem
die gasbottel. Ons braai broodjies
en raak sommer net salig. Die ouens wat
oorkant ons kamp kuier hartlik en toe dit saggies begin reën kruip hulle ook
maar in.
Dis ‘n heerlike oggend, die twee Pauls gaan kyk voëls en
kom vertel hulle het vir ons ‘n visvangtrippie vir die middag bespreek. Paultjie kom ook sommer met die visstok en
een hoek aan want blykbaar is dit dié plek waar mens tiervis vang. Ons besluit toe sommer om gou ‘n worsie en
broodjies te braai. Ook maar goed want
daar was nie gou weer tyd vir eet nie. Twee uur is ons op die motorboot saam
met Ernest, ons gids. Ons vaar vanuit ‘n
kanaal van die magtige Zambesi-rivier tot in die hoofstroom. Ons sien waterploeërs – hulle skep vissies
met die onderste deel van bekke in vlug.
Ernest stop by ‘n sandbank in die rivier en Paul en Paultjie stap rond,
swem en geniet hulself in die water. Die
wolke skep geleentheid vir wennerfoto’s en ons sien hoe reën dit in Zambië. Ons vaar so ent af met die rivier en Paultjie
gooi in. Ons is rustig en woeps daars ‘n
pluk aan die lyn. Hy trek ‘n pragtige
tiervis van 3,2 kg uit. Ons is in
ekstase en neem foto’s. Ons vaar nog
bietjie rond op die rivier, verken al die diere en voëls aan die oorkant van
die wal met die verkyker. Ons vaar
sommer baie naby ‘n groot krokodil verby.
Paultjie besluit om weer lyn nat te maak. Doodluiters trek hy weer ‘n bielie van ‘n tiervis
uit – die keer 5,6 kg! Terug in die kamp
staan almal nader om te hoor van sy visse – ons wys foto’s en hy is almal se
held.
Ons maak ‘n groot vuur om by te kuier en een van die
ander kampeerders staan nader vir ‘n geselsie - Johann Nel van Swakopmund. Hy vra uit oor ons reisplanne en vra dat ons
hom bel sodra ons in Swakop aankom, gee sy adres en telefoonnommer want hy het
vir ons blyplek. Hy vertel dat slaapplek
baie skaars en onbetaalbaar duur is gedurende Desember maar sy huis (woonstel)
staan oop vir ons. Hy beveel ook aan dat
ons by Kaisosi slaap wanneer ons in Rundu aankom. Terwyl ons telefoonnommers en adresse uitruil
begin dit saggies reën. Ons pak maar op,
vang vinnig ‘n stort en nou begin dit harder reën. Die enigste opsie is inkruip – ons in die
groot tent en Paultjie in sy klein tentjie.
En dit reën en dit reën al hoe dringender en hoe later in die nag al hoe
harder. So teen drie uur die oggend hoor
ons van die ander kampeerders rondskarrel – die reën het hulle oorval. Hulle tent is sopnat, die bote dreig om te
sink, hulle grou slote om die water weg te voer en Paultjie slaap rustig. Teen sesuur raak ek en Paul bekommerd – hoe
gaan ons deur die water en modder by die grootpad uitkom? Ons maak Paultjie wakker – alles om hom is
papnat maar hy lê hoog en droog op sy matras…
Hy het nooit agtergekom dat dit by sy tent inreën nie. So vind ons ook
uit dat ‘n Blackberry kan swem.
Groot-oog kyk ons vir mekaar – wat gaan ons doen? Lyk nie of dit ooit gaan ophou
reën nie. Ons hoor die bure (Johann
Nel-hulle) oppak en besluit ons moet klaar oppak en voor hulle ry, sodat as ons
dalk in die modder vasval met ons 4x2 kan hulle ons uitsleep met hul 4x4. So gesê so gedaan – ons pak in gietende reën
op, Paultjie trek van Paul se klere aan want syne is mos alles sopnat. Daar is nie kans vir tandeborsel, gesigwas of
harekam nie, nog minder eet. Papnat in
die motor en ons ry. Paul ry teen 20km/h
en die modder is taai en glad. Ons moet deur drie diep driwwe ry en my hart
bons heelpad van opwinding en spanning.
En sowaar net om die eerste draai het ‘n 4x2 bakkie van die pad af
gegly. Ons voel om te help en Paul stop
op ‘n growwe stukkie pad. Hy en Paultjie
stoot en help en gee raad en daar gaan die man…
Na meer as ‘n uur bereik ons die grootpad en slaak ‘n sug van verliging.
Ons aldrie lyk oes en die naaste eetplek is op Katima
Mulilo. Ons is nat en honger. Al die
eetplekke is nog toe en ons vat die pad Rundu toe - 500km verder. Ons het op die padkaart gesien halfpad tussen
die twee plekke is die Popavalle en besluit om daarlangs te gaan – daar sal
sekerlik ‘n toilet en restaurant wees.
Ons word met ope arms verwelkom, moet elk N$10 betaal en gaan op ‘n verpligte
toer van die nuwe luukse oord wat pas oopgemaak het. Die restaurant is klinies skoon en ons lyk
nie juis goed nie so ons gee dit maar ‘n
“skip”. Druk deur tot op Rundu. Bek
en klouseer was jare ‘n probleem in die Caprivistreek en ons moet ‘n paar keer
stop, uitklim, ons voete op ‘n matjie afvee terwyl hulle die wiele spuit en dan
kon ons verder ry. Waar slaap ons vanaand?
Kaisosi kan ons help met ‘n chalet vir die nag en hulle
het ‘n restaurant. Ek tap vir ons
badwater in, die water lyk soos tee voordat jy nog ingeklim het en my hare is
sommerso rooibruinkleur nadat ek dit gewas het. Paul en Paultjie probeer die tente
droogkry en ek hang ons nat wasgoed die hele chalet vol maar dit help veel want
die lug is vogtig en dit reën alweer.
Ons gaan eet uiteindelik – die kelnerin is verbaas dat ons so baie
eet. Die volgende oggend het die twee
Pauls ‘n kajak geneem en al met die Okavango-rivier opgeroei. Die son skyn silwer op die water en mens wil
elke oomblik vasmaak in jou geheue. Geen
foto kan die atmosfeer vasvang nie…
Ons ontmoet vir Zdenek en Marika van Tseggië – hy is ‘n
fotograaf/joernalis en hulle het al deur Asië, Suid-Amerika en Sentraal Afrika
duimgegooi. (Jaco skip asb die paragraaf) Vir Suider-Afrika moes hulle ‘n voertuig
aanskaf want duimgooi is moeiliker in Namibië, Botswana en Suid-Afrika. Ons kuier en gesels asof ons mekaar al jare
ken. Dit is wat Zdenek vir ons drie dae
later in ‘n epos stuur: We still hope our roads cross again so we can
continue our conversation. Sometimes the life is crazy. You know somebody for
ages and you never really get close. Sometimes you just meet somebody for a
couple seconds and there is a connection immediately. That is what we felt with
you.
Ons weet dat ons nou graag in die rigting van Etosha wil
ry. Waar
slaap ons vanaand? Ons vra rond by
Kaisosi, gaan deur brosjures en besluit op Mokuti Lodge by die ingang van die
wildtuin. Paul bel maar die tariewe is
bietjie buite bereik maar die dame is bereid om vir ons ‘n beter tarief te bied. Ons weet ons kan nou rustig verder ry want
ons het mos slaapplek. Rundu is ook ‘n
regte Afrika-dorpie – baie mense op straat, gate in die pad, vuil toilette (jy
moet betaal om dit te gebruik) en oral loop maer honde rond. Ons trek geld in
Rundu, gooi diesel in, koop bietjie versnapperinge en water vir die pad. Paul wys ons die lugmagbasis waar hy ‘n kamp
gedoen het. Dis heeltemal anders as wat
ek my voorgestel het – dis welig groen en ‘n hele ent buite die dorp. Die pad raak interessant. Oral is klein “villages” en die kinders speel
langs die pad en die heel mooiste beeste wei langs die pad. Omtrent elke 10km is pragtige klein
skooltjies, in dieselfde styl gebou, en elke ander 10km is piekniekplekke. Dit lyk so asof die mense gelukkig is om daar
te kan bly. Ons stop by een van die
“villages” want die kinders verkoop sousklappers. Die kinders het afrikaanse name maar praat
engels. Hulle wys vir my hul huisies en
vertel dat hul ouers bedags in die lande werk terwyl hulle tuis bly, kosmaak en
die kleintjies oppas. Ek vra hulle of
hulle weet waar ons vandaan kom en hulle dink ons kom van Rundu af want Rundu
“is very far from here”. Rundu is toe so
40km terug… Ons kuier heerlik met hulle
en gee vir hulle lekkers wat hulle gretig met mekaar deel.
Ons ry tot op Grootfontein – wat ‘n pragtige dorpie – lyk
of daar een of ander tyd Suid-Afrikaners betrokke was by die ontwikkeling van
die dorp… Al die winkels is toe so ons
hou maar verby tot by die Hobas-meteoriet.
Die meteoriet is 2.7×2.7×0.9 m en
bestaan hoofsaaklik uit yster en nikkel.
Ons ry nou in die rigting van Tsumeb maar
wil eers die Otjikotomeer aandoen. Dis
net na vyf en hulle is bereid om die meer gou vir ons te wys teen N$25 per
persoon. Nee wat - ons kan genoeg van
die pad af sien en ry tot op Tsumeb - ook ‘n pragtige skoon Namibiese dorpie. Die
son sak eers teen hallf nege en ons wil graag voor sonder by Mokuti Lodge
wees. Die pad voel lank. Net voor sononder stop ons by Mokuti
Lodge. Is ons op die regte plek?
Dis dan ‘n 5-ster lodge met hoofsaaklik Angolese- en
Kubaanse-toeriste. Ons word met ‘n
gholf-karretjie na ons kamer aangery en o wee…
dis dan so luuks! Ons gaan swem,
stap bietjie rond en gaan klim soos koninklikes in spierwit beddens. Ons wasgoed van Katimo is nog nat maar wie is
nou bekommerd daaroor as jy so luuks kan slaap.
Sal more aand maar weer “down
grade”. Net voor ons aan die slaap
raak kry Paul ‘n sms van Standardbank dat hy dringend die bank moet skakel ivm
kredietkaartbedrog – luukse bekommerde nag… Ons nuttig die heerlikse buffet ontbyt,
koop telefoontyd en bel die bank. Hulle wou
toe maar net seker maak dat dit wel ons is wat die kaart in die buiteland
gebruik – ons het dan vooraf gereël - al die bekommernis verniet… Ons pak op – Etosha toe! Waar
slaap ons vanaand?
Paultjie:
- Halali,
Etosha
Ons het op die warmste tyd
van die Sondag by Halali ruskamp aangekom, na ‘n rustige rit vanaf Namutoni
waartydens ons jagluiperds in die verte gesien het asook kameelperde en
gemsbokke en die baie spesiale gompou. Die son was warm en het skrefieskyk skerp
vanaf die ligkleurige sandgrond gereflekteer. In die kamp was koelte skaars en
ons het gewik en geweeg tussen twee staanplekke terwyl Pappa met die hulp van
buurkamper-Jacques die son se lyn gepeil en die skadukolle geskat het. Ons het
nie een oomblik geraai dat skaduwee ons laaste worry sou wees tydens ons
verblyf by Halali nie…
Na ons gesweet het ‘dat die
water by ons afstroom’, soos Pappa beskryf, het ons tente goed geanker en
gespan daar gestaan. Die groot tent was op ‘n sementblad maar die kleintjie op
die grond. Albei tente was nog sopnat van die baie reën by die Zambesirivier
maar dit was op daai stadium so warm dat die tente binne minute kurkdroog was.
Ek het daardie middag ‘n
gawe Amerikaner in die kamp ontmoet wat saam my frisbie gegooi het. Ek hoop
nogal om weer van hom te hoor want hy werk in Pretoria en hy het my
kontakbesonderhede.
Vir ete (middag– en aandete)
het Pappa vir ons slapchips by die kiosk gekoop nadat Mamma gesê het dat ons
nie die vleis in die kamp se winkel sal braai nie, dit het al sleg geruik. Die
chips was lekker maar ek wil eintlik uitkom by die ding wat ons meeste oor
praat van die tyd by Halali:
In die laatmiddag het daar
‘n ligte windjie opgesteek. Nie lank nie toe val daar druppels ook vanaf daai
mooi wolke van vroeër die dag wat toe al donker was en laag gehang het. Ek en
Pappa het nog die klein tentjie probeer droog hou binne deur ‘n plastiek bo-oor
te span maar daai windjie het sterker geword en die plastiek afgeskeur. Ek moes
maar bedmaak in die groot tent. Die buurkampers was iewers buite die kamp besig
om diere te kyk en ons het hulle handdoeke en kampstoele onder hulle seile
gesit net voordat ons onsself in ons tent toegerits het. Die wind het begin
pluk aan die tent, die reën het heeltyd harder en harder geval. Ek het nog op
‘n stadium onder die tentflap uitgeloer en buite het dit soos ‘n orkaantoneel
op TV gelyk: wind wat die bome platdruk, oranje stowwerige lug en reën wat meer
dwars as ondertoe val. Dis toe dat ek vir Pappa en Mamma ‘n noodplan gegee het:
As die tent skeur, gryp klere en beddegoed, prop dit in swartsakke en hardloop
kar toe.
Die tent het gelukkig nie
geskeur nie. Tydens die piek van die storm was ons binne in die tent. Dit was
donker buite. Pappa het onrustig na elke geluid wat die tent maak geluister,
Mamma het grootoog vir ons gekyk en senuweeagtig gelag en ek het op my matras
gelê. Dit het omtrent ‘n halfuur so gegaan. Toe hou die reën op en die wind
bedaar.
Skielik het die laaste
sonlig deurgedring. Daar het geluide vanaf die ander staanplekke gekom. Nie ver
van ons nie het ons gehoor hoe iemand met ‘n graaf grou, en dis waar die
snaakste deel vir my begin het: Naby ons het ‘n uitgebreide familie in tente
gekamp. Daar was twee oupas en ‘n ouma, ‘n paar ooms, ‘n tannie en klompie
kinders. En daar was ‘n jong man ook, en dit was hy en ‘n outjie van so
sewentien wat om die beurt gegrou het. Hulle was al klaar besig om ‘n sloot te
grou wat veronderstel was om hulle kamp te dreineer. Hulle staanplek was die
laagste punt van die kamp en sodoende ‘n groot dam met die baie water wat in ‘n
kort tydjie geval het. Die Ouma se tent was omring met kniediepte water. Ek het
gesels met ‘n Oupa en jongman en Pappa se grafie gaan haal met die idee om te
help grou aan ‘n sloot. Maar eers het ek na die res van die kamp gaan kyk. ‘n
Entjie hoër op vanaf die familie se staanplek was daar nog ‘n staanplek wat in
‘n dam verander het, met tente omring deur water. Daar was ook mense besig om
dreineringslote te grou. Heel logies het hulle dit by die laagste punt begin
grou waar die water alreeds besig was om stadig uit te loop in die rigting van
die groot familie se staanplek. Dus het hierdie boonste dam in die onderste dam
uitgeloop. Ek het toe eers met die boonste dam se dreinering gehelp maar die
grond was klipperig en moeilik en ons het die sloot maar redelik vlak gelos. En
metdat ek terugstap na die groot familie se staanplek sien ek dat die Ouma
agtergekom het dat ander kampers hulle dam in haar familie se dam dreineer, en
sy wil so gou moontlik haar tent op droë grond kry. Om die probleem op te los
het sy begin om ‘n wal in die boonste sloot te probeer bou, met ‘n paar
bakstene en ‘n houtpaal, maar niks wat enige water sou kon stop nie. Ek kon
maar net lag en vir die Ouma bemoedig dat haar tent uiteindelik weer op droë grond
sou staan.
Daar het ‘n tweede storm
gekom, die keer van die anderkant af. Dit was hewiger as die eerste maar die
tent het bly staan. En daarna het ons gaan stort, tee gemaak en die bed
geslaan. Die volgende dag is ons gou uit Halali uit want chalets was duur. En
ongelukkig was daai stormagtige nag ook ons laaste in Etosha want die Okaukeujo
kamp was vol bespreek. Maar oppad uit die Etosha park het ons bloukraanvoëls, nog gompoue en kameelperde, Zebra en baie klein
tipes voëltjies gesien. Waar slaap ons vanaand?
Ander kampeerders in die Halali-ruskamp, Etosha, vertel hulle is ook
oppad Brandberg toe en beveel aan dat ons by die Brandberg White Lady Lodge
kamp. Op die foto is pragtige
grasdaklapa’s, swembaddens en groen grasperke.
Ons besluit om soontoe te ry en daar te vra vir slaapplek.
Paul vertel:
Van dag een met ons beplanning
vir hierdie reis wou ek graag die Brandberg sien na dit wat ek oor die plek
opgelees het. In my gedagtes het ek verwag dat ons nie veel gaan sien nie maar
ten minste sal kan sê dat ons daar was - so paar fotos neem en dan maar aanry.
Tog was Brandberg min of meer die halte waar ons Kersfees sou uitspan. Vanaf
Outjo ry ons na Khorixas om vandaar weg te draai - suid op ʼn grondpad.
Oppad is
die Vingerklip links so 16 km van die pad af. Wag besluit ons, ons het nou wel
nie beplan om daar af te draai nie maar ons weet mos van die Vingerklip en ons
sal dit graag wil sien. Draai maar om en
gaan kyk!
Ons is aangenaam verras
met die klip se uitsig en die mooi akkomodasie beskikbaar. Ons ontmoet vir Hendrik
en Lorraine van Johannesburg en kom agter dat ons baie belangstellings in
gemeen het. Hulle is ook oppad Brandberg White Lady Lodge toe...
Terug op die “grootpad” na Uis
lê die Brandberg soos ‘n “teenwoordigheid” aan ons linkerkant - is nie ver nie maar kom ook nie nader nie!
Dis ‘n lang stuk grondpad en ons stop in die kilometers van niks. Ons
luister kliphard na Amy McDonald se liedjies en Paultjie dans die riel van
lekkerkry.
Ons draai regs in na die White
Lady Lodge - die pad neem ons al dieper af na die mooiste groen oase in die
woestyn, aan die voet van die Brandberg langs die Augabrivier. Die ontvangs is
vriendelik en hulle het ‘n chalet en kampeerplek beskikbaar en sê ons kan gaan
kyk wat ons verkies. In die kampterrein keer Herrie van Goodwood my voor en wys
my die lekkerste kampeerplek onder ʼn groot kameeldoring met sy eie immergroen
bos. In ‘n holte op die sagste riviersand slaan ons dadelik die tent op – ons
vat die chalet se sleutel terug sonder om te gaan kyk! Ons yskassie kan vyftien
grade onder die heersende temperatuur hou. Maar dit help niks as die heersende
temperatuur 40 grade is nie. Intussen het dié se proppie ook uitgekom en alles
is onder water, maar wat, hier gaan dit gou droog word in die hitte. Ons
verwonder ons aan die berg se skoonheid maar sweet terwyl ons die kampplek
regkry. Ablusie is nie ver nie - so 40 meter – net ‘n stort en toilet, geen dak
of elektrisiteit nie. Ek is nogal verbaas dat Theresa so blymoedig is in
hierdie omstandighede.
Uiteindelik het ons twee dae
hier gebly en wonderlike ervarings gehad. Ons is in die bloedige hitte saam met
ʼn gids, Patricia, die berg op. Bo-op in die kloof is die beroemde rotstekening
van ‘n wit persoon wat meer waarskynlik die van ʼn jagter (toordokter) is, maw
‘ʼn man. Hul gewoonte was om hulself wit te smeer vir seremonies vandaar die
“white lady”. Ons is
verras oor die nuwe spesies voëls wat ons op ons lysie kan aftik.
Op ons laaste dag hoor ons die
woestynolifante is oppad en ons wil graag in die rivierbed afstap om hulle te
sien! Een van die kampeerders tel ons met sy Fortuner 4x4 op en vat ons tot by
die olifante. Vandaar volg ek en Paultjie hulle te voet maar kom gou agter
hulle is te vinnig. Ons raak agter want ons raak aan die gesels met Hendrik van
Windhoek wat al die pad rivierbed-langs tot by die see gaan ry om vis te vang -
70 km verder. Paultjie is
baie teleurgesteld omdat ons die olifante verloor het maar daar gaan ek en hy
weer... en die keer loop ons ons vas in twee koeie en ʼn kalfie. Paultjie
sou in die nag ʼn draai loop en oppad amper ʼn groot alleenloper olifant
teggemoet kom. Theresa is baie op haar senuwees maar sy glo my darem dat
hy niks sal doen nie. Die olifant het ʼn waterpyp uitgeruk en die bome langs ons
geskud vir die kameeldoringpeule. Hy is
so naby ons tent dat ons sy maag hoor grom – seker van hongerte.
Die mooiste sonsondergange het
ons hier ervaar – soos rooi vuur. Ons ry die volgende dag met verwondering en
herrinnering in ons harte. Sal ons weer eendag kan terugkom? Kersfees was
stil maar opwindend!
Dis 26 Desember, die tiende dag van ons vakansie en dit voel of ons al
twee maande op reis is. Ons ry vanaf Uis
tot by Hentiesbaai om Swakopmund toe te gaan.
Vanaf Hentiesbaai bel ons vir Johann Nel, net soos hy gesê het, en sê
ons is oppad maar wil net gou eers 70km noord ry na Kaapkruis. Die paaie hier is nie meer grond nie maar van
sout. Kaap Kruis is een van die grootste
Kaapse rob-kolonies in die wêreld. So
ver jy kyk sien jy robbe – dit moes net na die broeiseisoen gewees het want
daar is derduisend kleintjies. Ons
hongerpyne wyk ook so saam met die reuk van die robbe.
Oppad suid is oral soutmyne en langs die pad is klein tafeltjies met
groot soutkristalle. Jy kan stop en dan
net ‘n geldjie in ‘n blikkie los as jy vir jou ‘n soutkristaal “koop”. Ons was byne 28 jaar gelede in hierdie wêreld
maar toe ons Hentiesbaai inry is ons verstom – dis dan nie meer die visvang-gehuggie nie. Hier is pragtige huise gebou, groterige
winkels en sommer baie mense. Oral ry
die vistermanne met hul visstokke vertikaal vasgemaak vooraan die bakkies.
Ons kry ‘n klein stampvol restaurantjie oop
en bestel “vis en chips” – ons smul
behoorlik! Swakop hier kom ons....
Ons kry redelik maklik Johann en Daleen se huis – en hy stel sonder
enige voorbehoud sy woonstel aan ons beskikbaar. Hul gasvryheid het ons oorweldig en ons
spreek af dat ons vier nagte sal oorbly.
Swakop is mos ons wittebrooddorp, ons
ken die dorpie goed en wil vir Paultjie al ons ou herinneringe gaan wys –
die klein duitse restaurantjies, die jetty, Woermannhaus, die ligtoring en
natuurlik die kaaskoek wat ons nie moet mis nie. Wat ‘n ontnugtering – Swakop is dan amper ‘n
stad! Die plek het so uitgebrei, groot
supermarkte, geplaveide strate en duisende vakansiegangers.... Ons voel half onkant betrap want mens kry nie
eens parkeerplek in die “dorp” nie. Die
klein duitse restaurantjies is groot besige restaurante en mens moet ‘n tafel vooruit
bespreek. Maar die dag was lank – ons
paas behoorlik van moegheid uit.
Die volgende oggend probeer ons in die dorp rondloop maar dis so besig
dat ons besluit om uit te wyk Walvisbaai toe.
Ons wil ‘n hawevaart op een van die katamarans doen en gaan om plek te
bespreek. Op die hawe ontdek ons die
heerlikse restautant – Anchor - en eet ons vingers af aan die heerlike
vis. Ons gaan stop langs die see en neem
foto’s, ry uit al met die soutmynpad en verkyk ons aan die duisende pienk
flamminke, kormorante, pelikane, duikers, snippe, eende, elsies, water kiewiete
– die twee Pauls is in die sewende hemel oor al die oewervoëls – almal so
bymekaar. Dis ‘n heerlike middag en aand.
Ons gaan saam met Laramon Tours op ‘n katamaranvaart – sien pelikane,
robbe, dolfyne en ‘n walvis. Van die
robbe klim selfs op die boot en die klein kindertjies jil van plesier as hulle
die rob vryf.
Ons besluit om Duin 7, die hoogste duin ter wêreld, te gaan uitklim maar dis so warm ons kry nie
ons voete in die sand nie. Paultjie is
baie braaf en klim die duin in fases uit en hardloop op die naat van die
duin.
Ons besoek ook die Goanikontis – maanlandskap – soveel van verlatenheid
kan ‘n stadmens redelik depressief maak maar dis presies waarna ons soek en
kuier rustig in die oase. Ons ry sommer
baie ver om die beroemde welwitchia-plante, waarvan een 1 500 jaar oud is, te
sien en foto’s te neem. Die skoon vars
lug maak vir Paul baie vaak en hy kan skaars sy oë oophou en hy slaap lekker
agter in die kar terwyl ek en Paultjie beurte maak om te bestuur.
Dis ons laaste aand in Swakop en ons pak vir
ons piekniek om langs die see te geniet terwyl ons die sonsondergang afneem.
Ons besluit om die volgende oggend net na nege te ry want ons wil gou iets by
die klipwinkel gaan koop en sommer ‘n duitse ontbyt eet in die dorp.
Die atmosfeer in die restaurantjie is om te ervaar – duitsers met hulle
koerante, koffie, baie praat en sommer net die samesyn. Dit waarna ons verlang het, het ons die
laaste oggend gekry. Ons vat die pad
Windhoek toe – deur klein dorpies soos Usakos, Karibib en Okahandja. Waar
slaap ons vanaand? Oppad skakel ons
‘n gastehuis maar wat ‘n teleurselling toe ons daar aankom – pappegaaie, honde,
katte en skilpaaie – jammer ons slaap nie
in ‘n dieretuin nie... Ons probeer
die Vinyard Country Lodge en is aangenaam verras deur die goeie diens en
pragtige kamer – alles in ‘n ou wynkelder.
Windhoek is ‘n uitgebreide stad oor heuwels – lyk so half soos ‘n
outydse stad met hier en daar buitengewone moderne geboue (lyk soos Dubai se
geboue). Die Christus Kirche waak oor
die stad maar die soldaat op sy perd is juis toe net afgebreek en moet op ‘n
ander plek staangemaak word. (Dit was
ook die hoofbespreking daardie oggend in die restaurantjie in Swakop.) Ek neem ook toe sommer die straatname af – Fidel Castro, Robert Mugabe,
Sam Nojomo, Nelson Mandela, Kenneth Kaunda – klink of die res van Afrika (en
Kuba) in Windhoek kom kuier het. Om nie
eens van al die musikante te praat nie, Beethoven, Bach, Mozart ens.
Ons gaan besoek vir Roy en Gerda Wallace, ‘n pastoorspaar wat Paul al
vir baie jare ken. Hulle is al by die 70
maar soveel van respek en liefde tussen ‘n paartjie het ek al min in my lewe
gesien. Hulle bied vir ons slaapplek aan
maar ons het reeds by die Vinyard Country Lodge ingeboek. Poot-uit gaan slaap ons want more begin ons
huiswaarts keer.
Ons besluit om Oujaarsaand 2013 by Kalahari Rest Camp, net voor Kang, halfpad
deur Botswana te slaap. Wat meer kon ons vra, die mooiste sonsondergang, rustigheid,
stilte, baie diere en voëls – ons voel geseënd!
Ons bid saam en dank die Here vir die jaar wat Hy ons gedra het en dat
ons die jaar met so ‘n wonderlike vakansie, wat ons emosioneel geheel het, kan
afsluit.
Die pad deur Botswana voel en lyk letterlik of ons in die hemel ry – die
gras is grasgroen tot teen die teer, goudgeel blomme, vet beeste, bokke en
perde - die pad is stil. Ons is omtrent
die enigste mense wie deur die grens gaan.
Dis nuwe jaar en die grensbeamptes aan die Suid-Afrika kant is
vriendelik en ons is bly om ons “eie mense” te sien! Ons is tuis!
Waar slaap ons vanaand? In ons
eie beddens... 5 800 km later...
Soos vir baie mense wat ons ken was 2013 ‘n besonderse
moeilike jaar. Ons gesin moes emosioneel
baie dinge deurwerk en vandag weet ons dat die Here hierdie “onbeplande”
vakansie vir ons gereël het om ons emosioneel te heel.
Ons Ouboet het die huis verlaat, eers vir die Kaap en toe
vir Rusland, Paultjie was finale jaar ingenieurswese, ons moes drie kosbare
familielede aan die dood afstaan en ons vriendskappe is getoets.
Ons het geweet waarheen ons wou gaan maar nie heeltemal
besef wat op ons wag nie. Die lang wag
by die eerste grenspos was vir ons soos “om afstand te kry” van dit wat agter
lê. Die onsekerheid van waar om te slaap
het ons nie een maal oorweldig nie want sonder om ernstig te bid vir slaapplek
het die Here keer op keer voorsien. Ons is selfs geseën met gratis verblyf in
Swakopmund.
Die ongewoon baie reën by Katima Mulilo het ons drie gedwing
om soos “een man” te dink en saam te
werk. En ons het ook geleer om vir
mekaar te lag en mekaar net te geniet.
Die ongewone omstandighede het natuurlik ook gemaak dat ons nooit aan
die huis, werk of studies gedink het nie.
Die groot “heelmaak” het in Etosha begin – in twee groot orkaan-agtige
storms het ons tentjie bly staan. By die
Brandberg kon ons in die woestyn net “rus” – dit was baie warm maar die windjie
het ons afgekoel. Die kilometers van
niks is later soveel van niks dat mens ook aan niks dink nie – hoe nodig is dit
nie soms nie….
Soms was die pad so lank en stil en dan luister ons
kliphard na Hillsong, Louis Brittz, Third Day en Amy McDonald. Dis juis haar een liedjie “This is the life”
wat die tema van ons vakansie geword het.
And
you’re singing the songs
Thinking
this is the life
And
you wake up in the morning……
Where
you gonna go
Where
you gonna go
Where
you gonna sleep tonight
Wat sou ons anders gedoen het? Niks! Ons kon seker meer gereeld geëet het maar dan
het ons die etes dalk nie soveel waardeer nie.
Die tye wat ons luuks gewoon het was soos om in ‘n hawe vas te meer en
dan weer op die oopsee uit te gaan – dit was nodig! Ons 4x2 motor was meer as voldoende – ons het
gery waar ons wou wees. Wat ‘n
wonderlike manier om 2014 aan te pak….